NÁ DIE JAGSEISOEN WAG DAAR TALLE TAKE OP DIE VOËLJAGTER.
Nee, ek haal nie Karen de Villiers se bekende boek Tussen Seisoene aan nie – dit gaan hier oor die lang somermaande tussen voëljagseisoene. Van ons het natuurlik ander afleidings soos visvang of gholf, maar daar is wel heelwat wat ’n mens kan doen voor die volgende voëljagseisoen aanbreek. Die goed ontwikkelde jagbedryf in Suider-Afrika bied ons feitlik heeljaar toegang tot wild. Hoewel die meeste van ons net in die koeler maande jag, kan ons tegnies gesproke eintlik dwarsdeur die jaar haarwild jag. Dit geld natuurlik nie vir veerwild nie.
Veerwildjag word nog deur provinsiale wetgewing gereguleer en ons is afhanklik van die verklaring van ’n “oop” seisoen om dié sport te kan beoefen. As ons duiwe uitsluit, wat hoofsaaklik in Maart, April en dalk Mei beskikbaar is, laat dit ons met ’n tydperk vanaf omtrent middel Mei tot einde Augustus. Hoewel seisoene soms tot einde September nog oop mag wees op plekke, is dit gewoonlik reeds te warm vir voëljag. Daar is egter enkele uitsonderings, soos die Oktober-kwartelseisoen in die Oos-Kaap. Omdat voëljag tot spesifieke seisoene beperk is, ten minste wat tradisionele land- en waterjagvoëls betref, heers daar ’n mate van opgewondenheid in die aanloop tot die jagseisoen. Datums word vasgemaak, bedrywige jagnaweke volg en as ons weer kyk, is alles verby – temperature styg en die betowering is weer weg tot volgende jaar. Dit is dan tyd om die visstokke af te stof en te wonder wanneer die geelvisse die vlak stroomversnellings gaan beset.
Baie sal nou van voëljag vergeet, maar met die kort seisoene is daar vele take wat jy nou kan verrig om die komende seisoen nóg meer te kan geniet. Eerstens is daar altyd papierwerk wat afgehandel moet word. Ons is ongelukkig deel van ’n sisteem wat vereis dat ons rekord van aktiwiteite hou – noodsaaklik vir die behoud van ons vuurwapens, jagstatus of om vir daardie nuwe roer wat jy oorweeg te kan motiveer. Ek is amper doodseker dat sommige van julle nie die name van die plase en onuitspreekbare nuwe distriksname waar julle gejag het, aangeteken het nie. ’n Klompie van julle het waarskynlik nie eens lisensies gekoop nie! Ek verstaan dat ’n mens nie graag verder tot ’n korrupte regering wil bydra nie, maar ek is al twee keer deur natuurbewaringsbeamptes in padblokkades voorgekeer. Wil jy jou regtig hierdie moeite op die hals haal om sonder die nodige dokumente betrap te word? Ek maak ’n gewoonte daarvan om my lisensies jaarliks te liasseer – wonderlike bewyse van motivering vir die besit van haelgewere. Die meeste van ons behoort deesdae aan geakkrediteerde organisasies wat ook vereis dat ons aktiwiteite op rekord stel om ons jagstatus te behou. Doen dit eerder onmiddellik ná die seisoen. Dit sal kopkrap en dreigende e-posse later in die jaar voorkom, veral terwyl jy en ma op vakansie in die Kaap is!
Dit is sommer ook ’n goeie tyd om jou jagfoto’s op jou rekenaar te stoor en te rangskik; dit sal tot jou kosbare jagherinneringe bydra. Dis ook nou tyd vir wegpak en orde skep. As julle, soos ek en my seun, verskeie haelgewere gebruik, veral van verskillende kalibers, kry ’n mens doppe en patrone oral ingedruk – in bokse, sakke, baadjiesakke en onder karsitplekke. Dis natuurlik afgesien van al die ander rommel soos vere, knapsekêrels en kakiebossade. Gooi alles op die vloer uit en gebruik die stofsuier om mooi skoon te maak. Verder is dit hoog tyd om al jou baadjies, truie en buffs in die wasmasjien te gooi. Skep ook orde in die ammunisiekas – pak soort by soort en doen ’n vinnige voorraadopname. Bestel sommer ook nog ’n kas of twee, want volgende seisoen is dit waarskynlik heelwat duurder. Herlaaiers kan gerus ook in hierdie tyd ’n paar spesiale ladings toets; dit verg ’n bietjie werk om snelhede en rangskikking van korrels te meet. Dit is belangrik vir van ons ouer gewere en kleiner kalibers waarvoor ammunisie eenvoudig nie beskikbaar is nie, of ons wil die druk in die patrone effens laer hou.
Volgende op die lys is die skoonmaak van gewere. Ons winter is maar ’n stowwerige affêre en die vinnige skoonmaak van jou gunstelingskietding is nie voldoende nie. Soos altyd moet jy eerstens seker maak jou geweer is veilig. Haal die voorarmstuk af via die knippie wat dit in plek hou en ontkoppel die lope van die aksie. Dis hoe ver ons gewoonlik met die skoonmaak gaan, maar dit is tyd om dit meer ernstig op te neem. Volg jou gewone loopskoonmaakroetine – myne is ’n fosforbronsborsel deurweek met Hoppes nr. 9 op ’n verkorte skoonmaakstok in my handboor, gevolg deur verskeie lappies totdat dit heeltemal skoon is. Jou roetine mag van myne verskil, maar maak seker dat alle versamelde, verbrande kruit-, plastiek- en loodneerslag verwyder is. Indien jou geweer met multi-wurge (multichokes) toegerus is, skroef dit los vir spesiale aandag. Die kolfaksie moet ook nou losgemaak word. Dit is maklik genoeg – maak net seker dat die skroewedraaiers in die skroewe se gleuwe reg pas. By die meeste moderne gewere met lope bo en onder mekaar (’n over/under), soos Browning en Beretta wat ’n boxlock-aksie (boksslot-aksie) gebruik, moet jy die rubber- of plastiek-agterkant van die kolf verwyder. Binne-in ’n lang gat in die kolf sit ’n lang moer wat die kolf aan die aksie vasmaak. Dit is beter om ’n moersleutel in plaas van ’n skroewedraaier te gebruik om dit los te maak. Die kolf gly dan letterlik van die aksie af. Vir tradisionele sy-aansy- gewere (side-by-side) met lope langs mekaar wat ook ’n boksslot het, moet die snellerbeuel se agterste skroewe uitgeskroef word. Die hele beuel word dan antikloksgewys gedraai om dit los te skroef van die onderkant van die aksie net voor die snellers. Skuif die oopmaakhefboom (opening lever) na regs en maak die groot borgskroef daaragter los; die kolf sal van die aksie agtertoe afgly. Met die syslotgewere (sidelocks) is dit nóg makliker – maak die skroewe los wat die syplaat in plek hou. Tik liggies aan die bult agter die rug van die brugbroek en die slot sal losspring. Die snellerbeuel word verder op dieselfde manier losgemaak, gevolg deur die borgskroef. Daarna gebruik ek ’n tweeliter- roomysbak met paraffien of kragparaffien wat ook ’n ligte smeermiddel is; dit penetreer ook die porieë en laat dan ’n effense waterdigte lagie agter. Dompel die hele aksie in die paraffien en druk die lope aan weerskante in die paraffien.
Borsel dit met ’n klein verfkwassie skoon en skenk spesiale aandag aan die rib met sy gaatjies en die multiwurge se skroefdrade. Kyk spesifiek na die aanhegtings (soldeersel) van die rib met die lope – stof en olie gaar gereeld daar op. Jy sal verbaas wees wat onderin die bak lê! Alle staaldele moet nou liggies met ’n ligte olie gesmeer word. Ek verkies Eezox en doen veral moeite met die graveerwerk deur ’n tandeborsel en olie te gebruik. As ander jakkalsies gedurende die jagseisoen kop uitgesteek het, veral wat werkverrigting betref, is dit waarskynlik tyd vir ’n besoek aan iemand met meer kundigheid. Wees egter versigtig – baie goeie haelgewere is al deur sogenaamde “kundiges” geruïneer. Maak gerus ook seker dat die geweer jou nog reg pas – ons word almal ouer en die wange neig maar grondwaarts. Dalk was daar reeds al ’n paar onverklaarbare misskote deur die seisoen... Die kolf is volgende aan die beurt. As dit ’n uretaanafwerking het, kan dit met een van die talle silikoon-meubelpolitoere behandel word. Indien dit ’n olieafwerking het, moet dit verkieslik goed gepoleer word met gekookte lynolie. Jy kan suiwer lynolie gebruik of die soort wat ook ’n paar ander bestanddele bevat. Let op na skade soos krapmerke en duike wat miskien meer aandag sal moet kry (meer hieroor in ’n latere artikel).
Maak seker dat die ruitpatroon (checkering) skoon is deur nog ’n tandeborseltjie te gebruik. Oppas dat die geweerolie nie van die lope en aksie af in die kolfhout inloop nie. Om hierdie rede is dit altyd ’n goeie idee om haelgewere onderstebo in die kluis te bêre. Só voorkom jy ook dat die lope teen die kluis se kant raak. Hopelik het jy teen hierdie tyd al ’n mat onderin jou kluis gesit! Noudat die geweer skoon is, bly daar nog ’n hele paar dinge oor om te doen. Alle leertoerusting soos jou stewels, belde en die honde se leibande en halsbande moet skoongeborsel of selfs gewas word. Smeer goeie leerroom aan en sit dit dan in die son. Dit sal keer dat die leer uitdroog en help met waterdigting. Daar is verskeie middels op die rak hiervoor, veral by winkels met perdrytoerusting. Dalk het jy ook nuwe stewels nodig wat betyds ingeloop kan word voor die volgende jagseisoen. Mense kan ’n mens nogal vreemd aankyk as jy hulle dra wanneer jy kruideniersware gaan koop!
Onthou tog ook om daardie spoggerige leertas waarin veral die beter haelgewere gebêre word, ’n goeie laag leerpolitoer te gee. Baie van hierdie karaktervolle tasse is al meer as ’n eeu oud en ons droë klimaat kan hulle verder verrinneweer. Waterskoene en kunslokvoëls (decoys) soos eende en ganse moet ook gewas word en die toue en gewiggies van dié wat in die water gebruik word, moet ontrafel en netjies weggepak word. Ek gebruik seilsakke om dooie voëls in te vervoer. Hierdie sakke kan saam met die kunsvoëls se sakke in die wasmasjien gewas word.
Ons beste jagmaats deur die seisoen, ons honde, is volgende aan die beurt. Hulle moet deeglik uitgekam word; dit behoort ná elke jag gedoen te word. Selfs die korthaarhonde kan knapsekêrels kry wat in hul vel inboor en sere veroorsaak. Gee jou honde ’n goeie bad en moenie hul beddegoed vergeet nie. Hou hulle ook dop vir simptome van bosluiskoors ná daardie laaste uitstappie op die Springbokvlakte toe dit al begin warm word het. Hulle is natuurlik nes kinders en het waarskynlik ’n paar foute deur die seisoen begaan. Doen sommer nou opleiding om ’n paar herhalende foute reg te stel voordat hulle vergeet hoe dit gedoen behoort te word. Maak ook seker hulle kry hul jaarlikse inentings, laat hul tande skoonmaak en gee hulle effens minder kos.
Jy het waarskynlik deur die seisoen voëls huis toe gebring, hulle skoongemaak (hopelik op die regte manier) en in die vrieskas gebêre. Pak hulle weer netjies oor, merk hulle en skep orde in die vrieskas, veral as hulle saam met haarwild verpak is. Ek maak gewoonlik voor die jagseisoen seker dat alle voëls van die vorige seisoen uit die vrieskas verwyder is, gebruik word en dat die vrieskas skoongemaak word. Onthou dat voëls wat vakuumverpak is, ’n goeie twee jaar sal hou, terwyl dié in gewone plastieksakke vir maksimum ’n jaar in die vrieskas gebêre kan word. Beproef sommer nou ook ’n paar nuwe resepte om só reg aan jou prooi te laat geskied. Onthou: Wat jy jag, moet jy eet.
Om terug te kom na daardie misskote gedurende die seisoen: Daar is altyd sekere dinge wat nie verduidelik kan word nie. Misskote het ’n neiging om hulself te herhaal – by my is dit soms die skoot van links na regs op langer afstande. Indien jy die probleem kan identifiseer, is dit tyd om skietbaan toe te gaan. Kleiteikenklubs sal jou graag bystaan deur jou toe te laat om die spesifieke toestand te skep wat jy kan herhaal totdat jy dit regkry. Moenie huiwer om hulp te vra nie; daar is baie kundige mense by dié klubs.
Maak ’n gewoonte daarvan om ’n paar grondeienaars, asook die manne wat die uitstappies gereël het, te kontak en te bedank. Hulle is gewoond aan baie oproepe vóór die jagseisoen, maar is gewoonlik verbaas as jy ná die seisoen bel net om dankie te sê. Wie weet, dit kan jou naam vir volgende jaar nader na die bokant van die lys skuif... Ter afsluiting wil ek graag noem dat hierdie magdom klein takies binne ’n paar weke afgehandel kan word. Onthou, dit maak die volgende seisoen net soveel beter! Stywe lyne!
KREDIET: KOLSKOOT | Deur PROF. BRIAN REILLY
https://www.sajagterhunter.com/die-vo%C3%ABljagter-tussen-seisoene
Please activate your license to enable all features and receive new updates.